Quantcast
Viewing all articles
Browse latest Browse all 35

Veilige vleis is elke boer se verantwoordelikheid

Dieresiektes soos bek-en-klouseer, maltakoors en tuberkulose is iets waarteen elke boer behoort te waak. Dit is siektes wat nie net die boer se sak kan raak nie, maar ook die buurman en uiteindelik die verbruiker s’n.

Daarom begin Apac vanaf 1 Julie 2021 met ondersoeke om vas te stel watter boere of organisasies verantwoordelik te werk gaan met die verkoop en vervoer van vee, en watter nie. Die uitslae van hierdie ondersoeke sal op Apac se webblad gepubliseer word sodat boere kan weet wat die betrokke veiling se risiko is voordat hulle die diere onnodig daaraan blootstel.

Die Landbouprodukteagenteraad (Apac) het op 13 November 2020 nuwe regulasies in die Staatskoerant gepubliseer wat daarop gerig is om ՚n standaard te stel vir biosekerheidsmaatreëls tydens veilings. Hierdie wetgewing was ՚n regstreekse gevolg van die bek-en-klouseer-uitbraak in Suid-Afrika in 2019.

“Daardie uitbraak het veroorsaak dat alle veilings gestaak is tot in Februarie 2020. Dit het ernstige ekonomiese gevolge vir baie boere gehad, en dit is juis hierdie tipe situasie wat ons graag in die toekoms wil vermy met behulp van hierdie regulasies,” vertel Francois Knowles, registrateur van Apac.

Die doel van die regulasies wat deur Apac uitgestippel word, is tweeledig: Eerstens is dit om die Suid-Afrikaanse vleisbedryf se internasionale aansien te verbeter. Hierdie regulasies is geskoei op beginsels wat deur die Wêrelddiere gesondheidsorganisasie (World Animal Health Organisation (OIE)) uiteengesit is. Tweedens is dit om elke boer by die veiling te beskerm deur siektes op ՚n plaaslike vlak te identifiseer en verspreiding te voorkom.

Image may be NSFW.
Clik here to view.

“Daar is twee baie belangrike elemente aan hierdie regulasies waaraan vee-eienaars en veilingskrale moet voldoen. Daar moet naspeurbaarheid wees om te kan bepaal waar ՚n siekte ontstaan het in die geval van ՚n uitbraak. Daar moet dokumente wees wat die hele proses logies volg vandat die diere een plaas verlaat, tot waar hulle by die volgende plaas afgelaai word,” sê Francois.

Om goeie wetgewing te skryf is een ding, maar hoe lyk die praktiese uitvoerbaarheid daarvan? Die proses wat gevolg moet word lyk so:

Gesondheidsverklaring
Voordat enige lewendehawe na ՚n veiling toe vervoer mag word, moet die
boer of eienaar van die vee ՚n verklaring skryf waarin hy meld dat die diere gesond is en volgens sy kennis geen siektes onder lede het nie.

Vervoer
Die gewone regulasies rondom skuif van lewendehawe (Artikel 6 en 8 van die Wet op Veediefstal) geld steeds onder die biosekuriteitsregulasies.

Veiling
Elke veiling moet ՚n persoon aanwys as die biosekuriteitspraktisyn. Hierdie persoon moet by die Suid-Afrikaanse Raad vir Veeartse (SAVA) geregistreer wees. Hierdie praktisyn moet beheer uitoefen oor die vloei van vee vir die dag. Dit sluit alle stappe in van die proses wat gevolg moet word vandat
die vee by die veilingskraal inkom totdat hulle weer daar uitgaan. Dit is ook sy verantwoordelikheid om verdagte diere in kwarantyn te plaas en om voornemende verkopers weg te wys indien daar siek diere in die kudde is.

Infrastruktuur
Daar moet ՚n wielebad of -spuit wees vir voertuie wat diere na die veiling vervoer. Waar die diere afgelaai word, moet daar ՚n houkraal wees waar die diere behoorlik deurgekyk kan word om te sorg dat daar geen diere is wat vermoedelik siek, of selfs gesteelde vee is nie. Hier moet ook ՚n kwarantynkamp beskikbaar wees waar verdagte vee eenkant gehou kan word totdat die veearts of polisie opdaag.

Vandaar kan die vee beweeg na die verskillende krale waar hulle wag om in die veilingslokaal ingeneem te word. Dit is belangrik dat kontak tussen diere en tussen diere en besoekers deurentyd beheer moet word. Die ideaal sal wees dat daar ՚n loopvlak bo die krale opgerig word waarop die besoekers kan loop om na die diere te kyk.

Image may be NSFW.
Clik here to view.

“Ons weet dat baie agente nie dadelik al die infrastruktuur gereed sal kan
hê nie, maar die gedagte is dat daar voortdurend ontwikkeling en verbetering sal plaasvind,” sê Francois.

“Ons wil baie graag die boodskap duidelik oorbring dat boere hierdie regulasies in ՚n positiewe lig moet sien. Hierdie regulasies is daar om die boer se belange te beskerm, sy vee gesond te hou, en te verhoed dat daar weer ՚n geval gaan wees waar veilings gesluit moet word,” beklemtoon Francois.

Vir meer inligting kan Francois Knowles gekontak word by 011-894-3680, of stuur vir hom ՚n e-pos na Francois@apacouncil.co.za. Besoek ook hulle webwerf by www.apacweb.org.za.

The post Veilige vleis is elke boer se verantwoordelikheid appeared first on ProAgri.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 35

Trending Articles