’n Nare plaag wat die skaapboer gevoelige verliese kan toedien, is rooiluis, ook bekend as rooikopluis. Met die nodige kennis kan die boer hierdie bedreiging identifiseer en uitknikker. Rooiluis se doopnaam is Bovicola ovis (bytende luis) en die volwasse luis is ongeveer 1,5 tot 3 mm lank met ’n bruin-rooi kop en ligte bruin agterlyf. Die rooiluis is gasheerspesifiek. Hy het ’n breë, stomp kop en suig nie bloed nie, maar vreet eerder met kouende monddele aan epidermale weefsel, velskubbe of skilfers, hare, wol en bloedserum of bloedstolsels van wonde op vel se oppervlak. Rooiluis is aktief in die wintermaande, veral wanneer gashere se kondisie en algemene weerstand onder druk is. Ouer, siek en ondervoede diere, hoë veedigthede en diere met langer wol is meer vatbaar.
Tydens die warm somermaande kry luise swaar, maar bly oorleef in kleiner getalle. As jy rooiluis die eerste keer waarneem, is skape reeds 6 tot 7 maande gelede besmet.
Lewensiklus:
Die volwasse wyfie lê eiers op die skaap terwyl sy voed en die eiers sit aan die wol, ongeveer 12 mm van die veloppervlak, vas. Die wyfie lê ongeveer twee eiers elke drie dae en kan 27 dae leef. (Die rooiluismannetjies leef 48 dae.) Die eiers is amper deursigtig en baie moeilik om met die blote oog raak te sien.
Teen die ideale temperatuur van 30 tot 36 grade Celsius, broei die eiers tien dae later uit en die eerste nimfstadium verskyn. Die luis gaan op dag 22 en 31 deur twee verdere nimfstadiums voordat jong volwassenes verskyn. Die lewensiklus duur ongeveer 35 dae en word op die skaap voltooi, met ander woorde, rooiluis is ’n permanente parasiet van skape.
Oordraging:
Meeste besmetting vind plaas deur direkte oordraging en die luis kan net drie tot vier dae oorleef as hy nie op ’n skaap is nie. Lammers word deur ooie besmet. Een volwasse rooiluiswyfie kan ’n hele kudde besmet. Parasiete kom ook in die kudde in as besmette skape aangekoop word. Dit is baie belangrik om alle ingekoopte diere te behandel en in kwarantyn te hou voordat hulle in die kudde vrygelaat word. Rooiluis kan ook deur skeerders tussen plase versprei word.
Kliniese tekens:
- Rooiluis veroorsaak erge irritasie en die gejeuk, gebyt en gekrap deur skape veroorsaak wolskade. Die graad van wolskade hang af van die aantal luise, lengte van wol en sensitiwiteit van die skaap. Velskade en ’n breuk in wol word veroorsaak.
- Skuur en krap lei tot skade aan heinings en krippe.
- Skaaf- en skuurplekke veroorsaak lekkende wonde wat brommers lok.
- Gewigverlies kan moontlik een van die gevolge wees.
- Wol is soms gekoek en vertoon geel. As 1 luis per 10 cm wolopening op die skaap gesien word, is daar ongeveer 2 000 luise op die skaap. Die luise is wel sigbaar met die blote oog.
Ekonomiese verliese:
Ligte luisbesmetting veroorsaak:
- 3% verlaging in wolproduksie
- 1% verlaging in skoonopbrengs
- 2% verlaging in wolprys
So min as 5 000 luise per skaap kan ’n verlaging van tot 5% in die wolwaarde tot gevolg hê en 25 000 luise tot 20%. ’n Drastiese verlaging in melkproduksie kan ook voorkom, wat veroorsaak dat lammers swak groei. Daar is ook ’n verlies aan karkasmassa omdat besmette skape minder vreet en meer rondhardloop. Dit is dus goedkoper om skape te behandel as om verliese te ly.
Behandeling:
Dit is uiters belangrik dat alle skape met geregistreerde middels behandel word. Vir die beste resultate moet skape eers geskeer en dan behandelword. Die skeerproses kan tot 70% van luise verwyder en nog meer kan vrek aan blootstelling as die beskerming van die wol weg is. Onthou, die luis voed op die veloppervlakte, dus moet behandeling die veloppervlakte bereik vir die beste resultate. Dit is verder belangrik dat inspuitbare middels nie gebruik word om rooiluis te beheer nie, want hulle suig nie bloed nie. Luisbehandeling by skape met lang wol is normaalweg net noodbehandeling om verligting te bied tot skeertyd. Daar is verskillende middels en metodes beskikbaar vir luisbehandeling:
Opgietmiddels: Die ideale tyd om opgietmiddels te gebruik is 24 uur na skeer, wat verseker dat ’n hoër konsentrasie van die aktiewe bestanddeel oor die hele liggaam versprei. Dit is ’n maklike produk om te gebruik en kan met min arbeid toegedien word. Dit is minder spanningsvol vir diere en swaar dragtige diere kan ook behandel word. Boonop word ’n lae kapitale uitleg vereis, want geen dipgat word benodig nie.
Dipmiddels: Dipmiddels kan toegedien word as dompeldip, spuitdip of handbespuiting. Skape kan vanaf drie tot vier weke na skeer gedip word tot twee maande voor die volgende skeertyd. Maak seker dat die regte dipkonsentrasie gebruik word. Gebruik skoon water vir aanvullings. Die beste resultate word behaal op kortwol (1 – 3 maande). Maak seker dat skaap 100% benat is in dipproses. Daar is verskillende aktiewe bestanddele wat geregistreer is om rooiluis mee te behandel, naamlik amidiene, piretroïde en organofosfate en kombinasies van produkte. Besluit watter aktiewe bestanddeel en behandelingsmetode op jou plaas die beste gaan werk en hou te alle tye by die voorskrifte van etikette. Sommige van die opgietmiddels het baie lang nawerking tot so lank as 20 weke, wat herbesmetting help bekamp.
Redes waarom behandeling teen rooiluise kan misluk:
- Verkeerde dosis van die middel is toegedien.
- Toediening was te lank na skeertyd gedoen – die ideale tyd is binne 6 weke na skeer.
- Nie alle diere is behandel nie – veral pasgebore lammers word vergeet.
- Luise is weerstandig teen die aktiewe middel wat gebruik word.
- Skape is nie lank genoeg aan die aktiewe middel blootgestel nie.
Geskryf deur Jannie Fourie, NWKV-produksie-adviseur van die Wes-Kaap. Kontak hom by 083-564-1105 of e-pos jannie@overbergwireless.co.za.
Image may be NSFW.
Clik here to view.
The post Rooiluis op skape vreet die boer se inkomste appeared first on ProAgri.